Graad 8 Atletiek en ouergeselligheid 2017-07-31T12:50:43+00:00
  • graad-8-atletiek-en-ouergeleentheid

Graad 8 Atletiek en ouergeselligheid

Die eerste Saterdag na die skool in Januarie begin word ons nuwelinge by die graad 8-atletiek en ouergeselligheid verwelkom.  Hoërskool Linden se mense is bekend as ‘n verwelkomende gemeenskap. Ons is gefokus om geleenthede vir jongmense te skep waar hulle kan groei, hulself na hartelus kan uitleef en uiteindelike tot volwaardige volwassenes kan ontwikkel. By Hoërskool Linden bied ons méér as top-gehalte onderwys. Ons skep ‘n ruimte waar elkeen kan tuis voel.

Tydens hierdie geleentheid kry elke graad 8-leerder die kans om aan atletiek deel te neem met die moontlikheid om in die skool se atletiekspan opgeneem te word.  Goeie atlete moet dus sorg dat hulle gereed is.  Verder versoek ons dat u asseblief u kind sal aanmoedig om hieraan deel te neem.  Betrokkenheid sorg vir heerlike gees en elke jaar word nuwe talent ontdek en aangemoedig.

Om 12:00, na afloop van die atletiek, word daar gesellig saam geëet en gekuier deur die graad 8-ouers en personeel.  Die reëlings werk as volg:

  • Elke registerklas het hul eie stalletjie waar hul ‘n gourmet burger of – boereworsrol en mengeldrankie (“cocktail”) voorberei.
  • Elke klas reël vir ‘n gazebo of twee waaronder die ouers gesellig kan verkeer.
  • Ouers versier hierdie gazebo en stalletjies volgens enige tema van hul keuse.
  • Vrywillige ouers uit elke klas beman hul klas se stalletjie.
  • Alle wors en hamburgerfrikkadelle (“patties”) word op gasbraaiers gemaak. Geen oop vure word op die skoolgronde toegelaat nie.
  • Ouers bring hulle eie eetgerei en kampstoele saam.
  • Die stalletjies en kos word beoordeel. Interessante pryse is op die spel vir die beste versierde stalletjie, burger of boereworsrol en mengeldrankie.