Geskiedenis 2018-02-24T09:16:13+00:00
  • geskiedenis-hoerskool-linden-70-jaar

VOLHARD – Gister. Vandag. Môre.

Net na die Engelse oorlog het mnr. DJ Viljoen aan die hoof gestaan van ‘n plaasskooltjie, by name die Lindense Laerskool, op Emmarentia – die plaas van wyle mnr. Louw Geldenhuys.  Van Emmarentia is die skool oorgeplaas na Linden nog met mnr. Viljoen as hoof.  Hy is na sy aftrede opgevolg deur wyle mnr. PJ Grobler wat weens ‘n tragiese ongeluk vroeg moes aftree. Mnr. DJ Viljoen, jnr., het gedurende 1933 – 1934 waargeneem as tydelike hoof waarna Mnr. TE Schlebusch in 1935 as hoof aangestel is.

Mnr. Schlebusch is beskryf as ‘n man met visie en uithouvermoë. Die skool het bestaan uit 10 leerkragte met sowat 300 leerlinge.  Die skool is ongeveer hierdie tyd verdoop na oom Louw Geldenhuys.  In 1935 kom die Louw Geldenhuysskool totstand.  Die kinders het tot in standerd 6 by die laerskool skoolgegaan.

Twee jaar later, in 1937, is ‘n standerd 7 klas ingestel.  Die laerskool het toe ‘n sekondêre afdeling bygekry, by name die Lindense Junior-Hoërskool. Die sport en kultuur prestasies van die twee skole onder een dak en onder een hoof was wel bekend in die noordelike voorstede van Johannesburg.

Die 3 vakonderwysers was mnr. P Schutte, mnr. DJ Viljoen en mnr. AP Minnaar.  Onder moeilike omstandighede moes die werk verrig word want elke onderwyser was verantwoordelik vir ‘n hele klompie vakke wat deur middel van dubbelmedium behartig moes word.

In 1940 het die Louw Geldenhuysskool heeltemal te klein geword. Daar moes drie klaskamers ingerig word in die skuur van oom Danie Malan in Negendestraat, twee kamertjies in die winkeltjie van oom Danie Swanepoel in Sesdestraat, twee in die Kerksaaltjie in Vyfdestraat en een in die skool se fietsloods.

Ten spyte van die oorlogsjare het mnr. Schlebusch besef dat daar ‘n nuwe Hoërskool in Linden gebou moet word.  Hy het vele briewe, afvaardigings en vertoë aan die Onderwysdepartement gerig om ‘n hoërskool in Linden te vestig.  En toe…in 1947 is die Linden Junior Hoërskool met 500 leerlinge en 17 leerkragte in ‘n sierlik-moderne skoolgebou met 14 klaskamers op die Markplein van Linden ingelyf.  Geers en Geers was die argitekte van die gebou.

Linden was aanvanklik ‘n dubbelmedium Junior Hoërskool.  Mnr. Schlebusch het oorgeskuif van die Louw Geldenhuysskool en die eerste hoof van Linden Junior Hoërskool geword. Die geboue op die huidige terrein het gou beperk geraak en tente is opgeslaan wat as tydelike klaskamers moes dien.  Gedurende die parallelmediumjare het die Afrikaanssprekende sowel as die Engelssprekende leerlinge in vrede en vriendskap saam skool gegaan.

Vanaf 1950 is daar begin praat om die Engelse- en Afrikaanssprekende leerders te skei en ‘n skool in Rooseveldt Park vir die Engelse leerders te bou.  Aan die einde van 1951 is die Rooseveldtpark High School voltooi en het die Engelssprekende kinders in die volgende jaar daar begin skoolgaan.

In 1952 spog Linden met ‘n hoërskool wat slegs in Afrikaans onderrig verskaf en vir die eerste keer ‘n matriekklas het.  In hierdie jaar verkry die skool verhoogde status as ‘n volwaardige hoërskool.  Die inwyding van die nuwe Afrikaanse Hoërskool val saam met die viering van die groot Volksfees, wat die stigting van ons nasie herdenk.  Dit is 300 jaar gelede wat Jan van Riebeeck die stryd op die suidpunt van donker Afrika begin het.

In 1952 publiseer Hoërskool Linden sy eerste jaarblad.  Die jaarblad staan bekend as die Jan van Riebeeck-uitgawe ter herinnering aan die Afrikaanswording van Linden Hoërskool in 1952.

Mnr. Schlebusch se huldeblyk in die jaarblad van 1952 lui soos volg:

Saam het ons gewerk om ‘n Afrikaanse hoërskool in die Noordwestelike voorstede te bou.  Individue vorm gemeenskappe, maar dis alleen instellings wat ‘n nasie vorm.  En onder die instelliings van die Afrikaner vul dié skool geen geringe rol nie. Met die hulp van die Here het ons, ons ideaal bereik.  Mag ons leerkragte, ouers en leerlinge die Hoërskool Linden troetel en in stand hou sodat hy ‘n ligtoring vir die Afrikaners hier in die Noordwestelike voorstede kan word.

Die boodskap van Ds. GJJ Boshoff, voorsitter van die Beherende Raad, in die jaarblad lui soos volg:

Dit klink alles soos ‘n droom.  Ek bedoel die fenominale groei van ‘n parallel-medium Junior-Hoërskool tot ‘n volmondige Afrikaansmedium-Hoërskool en dit binne die kort bestek van slegs vyf jaar. Maar in die uur van ons grootste blydskap het ons nie ons Engelssprekende skoolgenoot vergeet nie.  Ook hulle het gekry wat ons gevra het: ‘n eie skool.

En nou staan ons voor ‘n nuwe begin.  ‘n Eie begin. ‘n Nuwe toekoms. ‘n Eie toekoms.  Hoërskool Linden lê in ons eie hande. Moet groei op ons eie harte Moet leef uit ons eie liefde. Moet aanwas uit ons eie wieg. Moet gelaaf word uit ons eie sweet. Moet gedra word op ons eie gebede.  By reg-begin moet ons wegspring. ‘n Eie tradisie moet geskep word. ‘n Eie metode ontwerp word. 

In 2017 vier ons Hoërskool Linden se 70ste bestaansjaar.  In sewe dekades het Hoërskool Linden bewys dat dit ‘n skool met eie tradisies en trotse waardes is.  “Beroemde, soms berugte en bekende mense het hier die essensie van hulle lewens ontdek. Hier is menige mens deur verskeie toegewyde en uitnemende onderwysers onderrig en as jong boompies gebuig, soos tans ook die tendens is.   Hoërskool Linden, ons  salueer jou vir dit wat jy vir elke leerder beteken het, en steeds beteken,  beroemd of sommer net iemand wat op sy of haar eie klein plekkie die Linden lig laat skyn” –  Ronelle Nel (Adjunkhoof: Sport).