Foto van 'n sport byeenkoms

Dogtershokkie

Linden-hokkiespan boaan liga

Hoërskool Linden se o.14A-meisieshokkiespan het op Saterdag, 21 Julie, met Bastion op Noordheuwel se bane in die finaal van die liga afgereken.

Die groot telling van 5-0 wys dat Linden in elke aspek van die wedstryd die oorhand gehad het; tog was dit 'n baie harde wedstryd. Elke speler het met deursettingvermoë en passie deur die wedstryd volhard – soos ware Lindeniete.

Die o.14A-meisieshokkiespan is nou die D2/D12-wenners in Johannesburg. Hulle speel in die volgende ronde van die Noordvaal-kompetisie teen die Hoërskool Secunda op Saterdag, 4 Augustus om 09:00 by Linden.

Foto's

O.14A-span

Linden se o.14A-hokkiespan:
Agter v.l.n.r.: Bronwyn van den Bergh, Lily du Plessis, Denise Cordier, Maxine van Heerden, Lindie Grünewald. Marietjie Annandale (afrigter)
Middel: Suzanne van de Venter, Bernice Willemse, Tammy van den Bergh, Danielle Hechter, Nikita Dieperink, Danyel Pelser
Voor: Jo-Mari Matthee, Anandré van Niekerk

Goeie seisoen vir Linden-hokkie

Met die hokkieseisoen nou amper verby, kan die spelers en afrigters met tevredenheid na die uitslae terugkyk.

Die o.14A- en o.16A-spanne het na die semifinaal van die liga deurgedring, waar die o.14's Fochville met 7-0 klop. Die o.16's verloor egter in 'n naelbytwedstryd teen Riebeeckrand toe die wenner met strafdoele bepaal is. Die finaal vind op 21 Julie plaas.

Die ander spanne het ook baie goed gevaar:
Die eerstes eindig vierde, die tweedes tweede en die o.15A's vierde. Die o.14B-span het 'n paar vriendskaplike wedstryde gespeel omdat o.14B nie in die liga speel nie. Hulle vaar goed teen sterk hokkieskole: Linden klop Westridge o.14A met 4-0, speel gelykop teen Noordheuwel en verloor teen Parktown met 0-1.

Chantal Crow en Danielle de Wet gaan in die vakansie onderskeidelik aan die o.16- en o.18- nasionale toernooie deelneem.

O.14A-span

O.14A-span

Dogtershokkie 2012  

Linden lewer twee provinsiale hokkiespelers

Danielle de Wet en Chantell Crow is vir die Suid-Gauteng-hokkiespanne gekies - o.18B en o.16B onderskeidelik.

Danielle de Wet Chantell Crow
 

Vyftigste wedstryd vir Linden

Op 20 April 2012 speel Danielle de Wet haar vyftigste wedstryd vir Hoërskool Linden se eerste hokkiespan.

2009 is sy by 'n Maties-Stellenbosch-toernooi as die belowendste speler aangewys. 2010 en 2011 is sy vir die SA Skole-oefengroep gekies.

Danielle is 'n bondeltjie energie wat ook in atletiek uitblink. Sy is nou eers in gr. 11 en kan nog vanjaar en volgende jaar 'n groot krag in Linden se eerste span wees.

Danielle de Wet  

Hokkiespelers slyp hul vaardighede in Durban

Die Lindeniete se hokkietoer na Durban die afgelope April-vakansie was dié hoogtepunt op die hokkiekalender.

"Daar is nie woorde om die pret en waarde van die toer te beskryf nie," vertel me. Marietjie Annandale, hul afrigter. "Die dapperheid en uithouvermoë wat die meisies getoon het, was onbeskryflik. Tussen verkoues en griep deur, seer spiere, hoofpyne, beseerde enkels en blou gewrigte het die meisies vasgebyt en met élke wedstryd verbeter. Hulle kan baie vaardighede by hulle hokkie-ervaring voeg."

Hulle het uitstekende leiding t.o.v. persoonlike afrigting van die KZN- provinsiale speler, TJ Smith, ontvang. Die binnehuise aktiwiteite was die heel lekkerste tydverdryf. Dit het baie fynere vaardighede ontwikkel.

Hulle het twee uit die drie binnehuise wedstryde gewen en drie uit die vyf Astro-wedstryde.

Die span het Danielle de Wet en Dené Vorster wat weens ander verpligtinge nie kon saamtoer nie, baie gemis.

Me. Annandale is vol lof vir die hokkiespelers se samehorigheid, sportmanskap, lojaliteit en uitstekende gedrag (op en van die veld af).

dogtershokkie Durban strand 2012 dogtershokkie toer na Durban 2012

Dogtershokkie

Alle afrigters en hokkiespelers is regtig trots om deel van die hokkiekultuur by Hoërskool Linden te wees.  Elkeen kan getuig van harde werk en toegewydheid deur die loop van die jaar.

Dogtershokkie 2012

Die spanne neem deel aan die Noordvaal-liga, teen skole soos Hoërskool Randburg, Krugersdorp High School en Hoërskool Bastion.  Dit was 'n besondere uitdaging om in hierdie nuwe liga deel te neem en Linden-hokkie betree 2012 met nuwe vaardighede en groot opgewondenheid.

Hoërskool Linden het twee provinsiale spelers opgelewer, naamlik Anne de la Rey en Danielle de Wet.  Danielle is ook verkies tot die SA o.18-oefengroep vir 2011/2012.

Linden se afrigters verteenwoordig ook die skool op provinsiale vlak.  Mee. S. Grobler, L. Maritz en M. Annandale was onderskeidelik afrigters en spanbestuurders vir Suid-Gauteng.  Verskeie spelers neem deel aan klub- en binnenshuise ligas.

Die afrigters is tans besig met 'n program om spelers as bekwame skeidsregters op te lei.  Die program is baie suksesvol en die afrigters is positief om daarop voort te bou.