Atletiek Akademie Sosiaal Atletiek Sosiaal Valentynsdag Atletiek Rugby Atletiek Skool Sport
Atletiek Akademie Sosiaal Atletiek Sosiaal Atletiek Rugby Atletiek Skool Sport

Boodskap van die hoof

Die leerlinge by Hoërskool Linden is ongelooflik gemotiveerd om 'n sukses van hulle lewens te maak; daarom ook dan die besonder goeie dissipline wat by ons skool heers. Maar dis nie waar dit stop nie. Lindeniete beskik oor die wil om op alle gebiede te presteer. Om alles hier op te noem is amper 'n onbegonne taak.

Die doel van hierdie webblad is om Hoërskool Linden, sy onderwysers en veral sy leerlinge bekend te stel en met hulle prestasies te spog. Dit is egter 'n deurlopende taak aangesien Lindeniete aanhou presteer. Ons leuse is nie verniet "Volhard" nie.

As ek na die leerders se prestasies kyk, kan ek nie anders nie as om te sê: "Welgedaan, Lindeniete! Ek is ongelooflik trots op julle."

Oor die personeel kan ek ook baie sê, maar die belangrikste is seker die toewyding wat ek van elkeen kry. Ek het nie een oomblik die gevoel gekry dat hulle nie agter my staan en as 'n span funksioneer nie. Dit is 'n personeel wat hier is vir die kinders. Dit is 'n personeel wat my werk baie makliker maak. Ek is trots om deel te wees van so 'n span. Ek glo dat hierdie skip nog groot waters gaan aandurf.

Dit is besonder aangenaam om met 'n energieke beheerliggaam saam te werk.

Beheerliggame kan 'n skool so bestuur dat daar geen groei of nuwe kreatiewe idees kan wees nie, maar gelukkig kan ek opreg sê dat dit nie die geval by Hoërskool Linden is nie. Hier is 'n span met 'n visie en wat 'n verskil wil maak.

Met hierdie drie komponente, nl die leerlinge, die personeel en beheerliggaam gaan dit ongelooflik goed by die skool. Ek wil egter nog baie meer uit die Lindeniete kry.

Ek glo al hoe meer mense gaan die Linden-"vibe" aanvoel en gaan meer van ons hoor. Dit is nie per ongeluk dat ons vir 2012 die meeste graad 8's die afgelope 25 jaar ingeskryf het nie! Hoe sê hulle? "They ain't seen nothing yet"!

As ek terugkyk na die afgelope twee jaar moet ek net baie dankie sê aan ons Hemelse Vader. Die seën wat ons ontvang, is ongelooflik.

Ek wil al die erkenning aan Hom gee wat die Koning van ons skool is.

Die Hoof: Hoërskool Linden
A Underhay.

Ons Visie

Die ontwikkeling van selfstandige en ondernemende individue wat waarde tot die samelewing toevoeg.

Missie

Hoërskool Linden is 'n Afrikaans-Christelike gemeenskapskool, verbind tot uitnemende en gebalanseerde opvoeding ten opsigte van:

  • Akademie
  • Sport
  • Kultuur
  • Leierskap
  • Ontwikkeling van lewensvaardighede en
  • Entrepreneurskap

Filosofie

As omgewing-sensitiewe opvoedkundige instelling sal Hoërskool Linden 'n konstruktiewe en leidende rol in die plaaslike, Suid-Afrikaanse en internasionale samelewing speel.

Die beginsels van 'n demokratiese, nie-diskriminerende en oop samelewing, akademiese en godsdiensvryheid word onderskryf.